Om die Berg

Roetekaart en Pedometer

Roetekaart en Pedometer

Totale klim (“Total elevation”): 1041m

(Gemeet met Strava)

Aurora Om die berg Langvlei

Langvlei

Wegspring – 6km

Die eerste gedeelte van die roete strek verby die begraaflplaas en oor Driekop se bult op pad na Langvlei. By Mooigelee se uitdraai en Die Tuin se bordjie verby en deur Langvlei se ou werf ry mens op ‘n harde pad waar deelnemers redelik vinnig kan vorder.

Fisantevlug

6km – 11km

Die tweede deel van die roete loop al langs Fisantevlug se bloekombome af tot in die werf. Hier draai die roete van die openbare pad af en strek verby die ou windpomp en oor die damwal by die riete verby. Sodra mens deur die hek is en langs die landerye af ry, kry jy die grondpad.

Aurora Om die berg Sterkfontein

Sterkfontein

11km – 18km

Alhoewel die Sterkfontein roete nie moeilik lyk nie is die pragtige landerye en gelyk pad misleidend. Hierdie grondpad toets stamina en deursettingsvermoë.

Aurora Om die berg Kapteinskloof

Kapteinskloof

18km – 23km

By die Howbill Boerdery se afdraaipad, sluit die roete by die Kapteinskloofpad aan. Dis ‘n lekker hardepad wat eers effens daal na die bruggie en dan weer effens opdraend loop, in die wye kloof op. Dit gee egter steeds geleentheid om vinniger te vorder en ‘n goeie tyd op te maak.

Aurora Om die berg Keurbos

Keurbos

23km – 28.5km

By Keurbos draai die deelnemers af op ‘n veldpad. Die roete kronkel deur bosse en om klippe en dis redelik steil opdraand. Verby die Wigklip klim die paadjie heen en weer. Daarna loop dit effens afdraand oor die damwal en nog effens af na die driffie waarna dit weer steil klim tot oor Die Nek. Die Nek is die hoogste punt en die halfpadmerk van Om die Berg. Skep asem en gun jouself ‘n minuut of twee om die mooi uitsig te geniet.

Aurora Om die berg Perdedam en Kleigat

Perdedam en Kleigat

28.5km – 34km

Na Die Nek daal die roete skerp en deelnemers moet uiters versigtig die ongelyk paadjie aanpak. Onder, aan die voet van die berg, by Stoneberg Farming sluit die roete weer by die pad aan en gaan verby olyfboorde en landerye.

Aurora Om die berg Agterdam

Agterdam

34km – 43km

Die Agterdam gedeelte van die roete gaan oor ‘n redelik goeie grondpad wat alles van klipperige harde rantjies tot diep spore insluit. Dis die langste gedeelte van Om die Berg en maak ‘n kinkel deur Agterdam se werf. Die pad gaan deur veld met rietbosse en suikerkannas (Protea laurifolia), verby Southern Skies Gasteplaas op Barkatsforntein en verby Kanariefontein tot by die sonplaas naby Rietvlei.

Aurora Om die berg Rietvlei

Rietvlei

43km – 50km

Na die sonplaas, sluit die roete by Rietvlei aan by die hardepad wat van Redelinghuys af kom, terug na Aurora. Die hardepad is lekker oop en breed en deelnemers kan weer goeie tye aanteken. Ry verby Berg-en-Dal se uitdraai en Grootplaat se pad tot by Grootkloof se afdraai.

Aurora Om die berg Klipperhoogte

Klipperhoogte

50km – 55km

By Grootkloof se hek draai die pad na regs en kronkel steil teen Klipperhoogte af. Deur Klipfontein se werf raak die dorp sigbaar. Die roete lei onderkant die pastorie verby en deur die dorp terug na die Skouterrein.